Sunday, 29 March 2015

Around The Rocks

Die swem vind in Big Bay plaas en ek voel meer gerus- alles is nie vreemd nie. Ons swem eers deur bietjie see bamboes diep see in en draai dan om n booi. Hier sluit ek by n groepie van 7 swemmers aan en dit is lekker om so saam met hulle te swem. Dit verg nogal konsentrasie om in niemand vas te swem nie en ek swem maar na die linkerkant van die groepie en kan nie enige voordel kry om van ander swemmers te "draft" nie. Ek verkies dit so, as wat ek in iemand vas swem.

Die roete gaan rondom twee groepe rotse. Toe ek om die verste groep rotse swem is ek 'n entjie van die ander swemmers en skielik gewaar ek 'n klein rob met skerp tandjies wat onderstebo onder deur my swem. Ek skrik my boeglam maar besef dit is net 'n rob. Die volgende oomblik swiep n groot grys gevaarte ook onder my verby. Ek swem vinnig nader aan die ander. Hul reaksie maak dit vir my duidelik dat die rob ook onder hulle gesewm het.

Nou is ons almal aangevuur en swem ons sommer nog vinniger. Ek voltooi die 2,4 km in 46 minute maar is weer deur 'n gety bevoordeel wat my help om hierdie lekker vinnige tyd aan te teken.

Na die swem is ek nie so koud nie en n lekker warm stort en die sonnetjie in die binne vierkant terwyl ons die wenners geluk wens, help om vinnig warm te word. Na die vorige week se hipotermie, is die vinnige herstel 'n genade.

Die robbie het verseker dat dit een van my onvergeetlike swemme sal wees.

Marié

Sunday, 22 March 2015

Kampsbaai

Die swem begin vinnig in yskoue water. Derrick gee ons nie kans om twee keer te dink, om draai, te oorweeg of koud te word nie. Die eerste deel see in swem ek lekker en my nuwe bril maak dit n plesier.

Dan maak ek n fout toe ek om die booi draai. Van die land het dit vir my gelyk of ons na ons by die booi gedraai het dwars oor die baai swem. Die ander swemmers mik reguit land toe en ek is verward. Ek stop en kyk en weet nie lekker watter koers om in te slaan nie. Ek begin weer swem maar stop en nog n klomp swemmers gaan verby my. Ek besluit om dan maar ook in dieselfde rigting as hulle te swem maar voel die heeltyd verward en asof ek in die verkeerde rigting is.

Dan sien ek die booi en voel meer gerus. Nou is ek egter op my eie en die water is baie koud. Ons swem dieselfde roete drie maal. Daar is ook  ander deelnemers wat net 1 myl swem en dus een maal om die twee booie en dan nader aan die land swem. Dit verwar my ook eers weer voor ek sien na watter booi ek moet mik.

Die volgende rondte is ek meer gemaklik want ek weet nou dat ek land toe moet mik. Met die derde rondte raak ek baie koud. Naby die eindpunt voel dit vir my of ek baie lekker swem en glad nie nodig het om asem te haal nie. Toe weet ek dat ek by' n gevaar punt is. Ek het  op daardie stadium 'n roeier op 'n bord by my en kan net konsentreer om te kyk waar sy is.

My sussie is gelukkig by die eindpunt en gaan help my om vinnig in droë klere te kom. Ek is soos n zombie en kan net soos n dooie mens met my warm watersak en kombers sit en kyk terwyl die prys uitdeling plaasvind. My sussie en haar man besef ek kan nie huis toe ry nie en sy ry my motor tot op Melkbos. Daar kan ek in 'n warm bed weer tot verhaal kom.

Alhoewel ek altyd baie koud na 'n swem is, is dit my ergste kennis making met hipotermie. Ek glo die verwarring wat ek ervaar het en die stadiger swem terwyl ek probeer uit maak het waarheen om te swem, het baie hier toe by gedra. Natuurlik was die water van 10 tot 11 grade ook n groot bydraende faktor. Ek swem die drie myl in 1 uur 48 minute. Elke swem is anders en mens kan dit nie vergelyk nie, maar ek het die vorige week die 5 km in 'n baie korter tyd af gelê. Ek het baie tyd verspil met my "verwarring" en leer n goeie les- moenie die ander swemmers "second gues"s nie- en as hulle verkeerd is wees eerder saam met hulle verkeerd!

Wat sou ek doen as my sussie nie daar was om my te help nie? Ek sou beswaarlik in my droë klere kon kom sonder haar hulp. Dan sou ek maar in my warm motor gesit het en heel waarskynlik ook bietjie geslaap het tot ek beter voel en dan huis toe ry. Dit sou baie lank duur en ek is maar net weer bewus dat ek maar iemand saam met my moet hê op my swem om veilig te wees.

Hipotermie is n koue water swemmer se nommer een vyand. Hulp van familie of die organiseerders is onontbeerlik. Warm watersakke, sokkies aan jou voete en n mus op jou kop help baie om na die swem te herstel. 'n Warm drankie soos die hot Chocolate wat die organiseerders gereed het help ook om mens van binne warm te maak. Ten spyte van die nare koue as mens se "core" temperatuur so verlaag bly die swem net te lekker en maak dit die moeite werd om hierdie slegte nagevolge te trotseer.

Sien jou in die koue water.

Marié

Sunday, 15 March 2015

Shipwrecked, n Swem vanaf die Seli se wrak

'n Lekker bonus was om die naweek twee swemme te doen. Die 5 km swem was van die Seli  wrak in Table View na Big Bay ander kant Bloubergstrand. Die begin van 'n swem is nie meer vir my 'n stresvolle situasie nie. Ek hou net my kop af en swem! Solank ek swemmers rondom my het, kyk ek nie op en soek die booi nie, ek sorg net dat ek in die bolling bly. Dan begin die vinniger swemmers weg trek en vind mens jou groepie. Ek swem aanvanklik saam met so 5 ander swemmers. Hulle swem nader aan die land en mik nie na die woonstel blok wat vir ons as mikpunt voorgestel is nie. Ek bly in die diep water en bevind my gou op my eie. Daar is n motorboot wat gereeld oor my waak en ek voel glad nie bang nie.

My enigste probleem is my bril wat op wasem en dit dan baie moeilik maak om te "sight". Ek neem my voor om n nuwe bril te koop en ook van die "Anti-fog" spuit goed. Ek het al gelees dat dit nie juis "n verskil maak nie, maar enige iets is beter as om so blind te voel. Dit help ook nie ek stop en maak my bril skoon nie want net die volgende paar hale daarna is die wasem eens so erg.

Naby aan bloubergstrand kom "n swemmer met n persoon op "n "staan plank" baie vinnig verby. Ek probeer hulle vang en saam swem, maar hulle is te vinnig vir my. Tog raak hulle nie weg nie en bly so 50 meter voor my. Ek kan nou maklik  die staande persoon op die plank sien en dit is baie makliker om koers te hou. Te gou is die swem verby en kan ek tussen die rotse deur swem oppad na die strand.

Ek geniet dit om die see uit te gaan. Ek het as kind baie ge- "body surf" en waar dit party swemmers verskrik om in die branders die strand te haal, is dit vir my soos my kos. Natuurlik voel ek weer jonk as ek hierdie jeug ervaring weer kan beleef. Dit neem my1 uur 34 minute om die swem te voltooi. Die laaste gedeelte is ons deur die gety bevoordeel en swem ek dus heelwat vinniger as die spoed waar teen ek in die swembad swem- dis tog te lekker!

Die swem, georganiseer deur Derick Frazer en sy span by Big Bay Events, is soos altyd n plesier om aan deel te neem. Moenie hul swemme mis nie!

Marié

Saturday, 14 March 2015

Die lekkerste swem

Die lekkerste swem vir baie swemmers is die jaarlikse swem by Langebaan om die eiland. Dit was vir my ook regtig n baie besondere swem en defnitief een van my lekkerste swemme ooit- Hawai tussen die skilpadjies wen wel met n kort kop.

Ek het gedink dat Langebaan self al in die strandmeer is, maar dit is eintlik nog deel van die see hoewel in n baie veilige baai. Die water was nogtans koud, n goeie 14 grade. Mens swem reguit na die eiland en draai dan regs om met die eiland aan jou linker skouer daarom te swem. Daar was lieflike see bamboes en ander onderwater plante waaroor mens n groot gedeelte van die tyd geswem het. Dit is vir my heerlik as ek so oor hierdie goed "vlieg". As die bamboes so wieg in die water lyk dit of mens nog vinniger swem.

In die begin was ek saam met n paar ander swemmers, maar hulle het vir my weg geswem en ek het weer vir n paar ander weg geswem. Aan die ander kant van die eiland het ek vir n lang ruk alleen geswem. Elke slag as mens om n blinde draai gaan sien jy dat jy nog nie die eindpunt kan sien nie en dan ewe skielik is die einde sommer baie naby.

Ek swem die laaste stuk met ekstra woema. Ek vergeet om my horlosie aan te sit en doen dit eers as ek n kwart van die afstand af gelê het. Ek swem teen n spoed van 1: 52 min per 100 meter maar dink dat die gety my plek plek gehelp het. Ek voltooi die swem (3 km volgens die organiseerders) in 56 min 34 sekondes.

Ek is glad nie naby die wenners nie, tog voel elke swem soos n oorwinning. n Oorwinning oor die elemente, die uitdaging wat die hoof gebied is en doelwitte wat ek vir myself gestel het wat bereik is. Self voldaan ry ons na Melkbos waar ons oor bly en ek uit rus vir die volgende dag se swem.

Moenie hierdie swem in 2016 mis loop nie!

Marié

Monday, 2 March 2015

Bridge House Mile

Energy Events organiseer die byeenkoms saam met die privaat skool Bridge house School. Dit word by die Bergrivier dam gehou in die berge by Franschhoek, werklik n skilderagtige omgewing. Die dam water is lieflik koel en mens kan lekker ver swem voor jy omdraai en terug swem. Goeie advertensie bring n ongelooflike klomp swemmers byeen. Ek dink daar was ook baie triathlon atlete maar hulle moet sonder hul wapen- die wetsuit, swem.

Die samekoms is op die hoë damwal en ons is gelukkig gewaarsku om sandale te bring vir die klipperige steil wal waar ons moet af gaan. Ongelukkig bring dit dan ook mee dat as jy gemaklik wil sit, jy nie regtig die swemmery kan sien nie.

Ek swem  'n baie lekker myl met baie mense om my. Ek behaal die 94 ste plek in die "Open Mile" in 32 minute 3 sekondes. Ons ouderdomme word aan gedui maar ons word nie in daardie kategorië in gedeel nie. Ek is 4 de van die 16 vroue tussen 50-59. Dit hang maar net af van wie deelneem hoe goed ek vaar, lyk dit my.

Ek het ook vir die Elite Mile ingeskryf om nog n myl te swem aangesien hulle korrespondensie gestuur het:

4) You may swim more than one event, but must enter each one individually.

Hulle het wel in die email gesê dat jy in onder 25 minute moet swem as jy vir die prysgeld in die Elite myl in aan merking wil kom. Ek het terug ge email en is deur Esti Pretorius verseker dat ek mag deelneem.

Ek het reeds teen kwart voor tien klaar geswem aan die myl en tot 11 uur gewag om die tweede myl te swem. Toe ek wil seker maak dat ek wel mag swem al is my naam nie uit gelees nie, is ek basies weg gejaag. Dit was nogal 'n nare ondervinding. Dit is die eerste swem waar daar so 'n opgeblase idee rondom die "Elite" swemmers is. Sanlam Cape Mile het ook n Elite mile gehad maar daar was die stadigste tyd 45 minute vir die myl. So almal was steeds welkom om dit te swem.

Die geluk by die ongeluk was dat Stephanus die bakkie ligte aan vergeet het. As ek nog die myl geswem het, het ons dalk nie weg gekom nie!

Thursday, 26 February 2015

Oefen by RPC

Ons plaasdam op Goedertrou is basies leeg. Die bietjie water wat oor is het ook baie alge in en ek moet sekere dele van die dam vermy. Knolfontein se lekker groot dam is nou 'n heelwat kleiner dam- darem nog steeds 500 m in die rondte. Die probleem is dat ek daar deur goed aangeval word wat my vreeslik byt en ek elke slag as ek daar geswem het lyk soos een met Duitse masels! Ek het ten minste 20 byt plekke oor my lyf.

Gelukkig was Alan Zondagh van die Rugby Performance Centre so vriendelik om my toe te laat om weer in hulle swembad te swem.

Ewe skielik is my tye sommer baie beter as net die vorige dag toe ek in Malmesbury geswem het. Ek vermoed onraad en tree die swembad af. Dan gaan n lig vir my op. Die swembad is seker meer as 50 jaar terug gebou toe die Sement fabriek nog deur die Ingelse besit is en Cape Portland Cement geheet het. Hulle het dit natuurlik in Yards gebou en nie in meter nie. 25 Jaart is net onder die 23 meter en ek swem ongelukkig nog teen dieselfde spoed. (Die sportgronde is verkoop en tans in die besit van Alan Zondagh wat sy Rugby Performance Centre hier gevestig het)

Dit is nou weer lekker om gereeld in die swembad te oefen. Ek kan my effektiwiteit meet en bepaal of my verstellings 'n verbetering in spoed bewerkstellig. Ek moet soggens voor 8 uur klaar geswem wees. Dit is n goeie begin vir elke dag. Waar ek twee jaar terug gesukkel het om in die water te gaan as dit nie n lekker son skyn dag is nie, is dit nou vir my tweede natuur en gaan ek maklik selfs in die half donker in die water. Ek moet 6vm by die swembad wees as ek 4-5 km wil swem.

Ek is ingeskryf by die Total Immersion Academy. Dit kos n maandelikse fooi maar daarvoor is al die videos en ook Terry Laughlin se nuwe boek op die Akademie beskikbaar. As mens raad nodig het is daar altyd n TI coach op die forum om te help. Suzaan Atkinson het ook n 12 weke program hierop wat ek nou gaan begin volg.

Ek lees gereeld Mat Hudson se blog. As n fondasie om jou swem tegniek te bou stel hy dit dat jy in n proses moet glo en die proses moet vertrou. Dit het ek nou net weer besef. Daar is baie verskillende benaderings in die swem wêreld. Ek glo in die Total Immersion filosofie en in my aanlyn afrigters. Ek kan nie n baster benadering volg deur ander idees met TI idees te vermeng nie. Dan sal die proses nie effektief wees nie en sal ek nie resultate verkry nie. Sommige benaderings soos die een waar krag en vinnige SR beklemtoon word is nie versoenbaar met TI nie. Total Immersion beklemtoon juis dat hierdie tegnieke oor n kort afstand werk maar oor die langer afstande soveel weerstand kan veroorsaak- n 10 % groter spoed veroorsaak 80 % meer weerstand, dat dit net te uitputtend is om volhoubaar te wees. Volgens die TI proses is balans en vaartbelyning die boustene waarop spoed later gebou word. Hierdie boustene moet gereeld verfyn word deur te probeer vasstel waar verbeterings nog aan gebring kan word.

Ek weet reeds dat ek nie altyd my kop in die water laat hang nie en dat ek met asemhaling my kop ook oplig en nie net draai nie. Hierdie aspekte gaan my fokus punt vir die volgende twee weke wees. Swem op die TI manier betrek jou verstand en jou liggaam en om so intens betrokke by die proses te wees is opwindend en maak elke swem n unieke ervaring. Geen vervelige op en af swemmery vir n TI swemmer nie!

Tuesday, 24 February 2015

Cape Mile

Die Cape Mile is deur Stillwater Sport georganiseer. Hulle het n vreeslike indrukwekkende "stadion" gebou. Na jou swem moes jy omtrent 300 m oor die hele krieketveld loop (tussen die beeshekke deur) om jou medalje te kry. Hier het ons ook n chip aan die been gehad soos met Midmar. Waar my Midmar tyd ooreengestem het met die tyd op my Garmin was die voorlopige tyd in ooreenstemming maar hul finale tyd was aangepas en was omtrent n minuut uit met my Garmin.

Dit was n baie lekker swem met baie mede deelnemers (weet nie waarom hulle nie almal ook by die WP swem nie) so ek kon weer eens net vir hulle dophou om om te sien waar ek moet swem.

Ek voltooi dit in die 8 ste plek in n tyd van 34 min 50 sekondes en volgens my Garmin in 33 minute 26 sekondes. Ek swem 1:53 minute per 100 meter oor die afstand van 1777m. Ek was spyt dat ek nie ook vir die ander myle ingeskryf het nie, maar mens skryf vir n ouderdomsgroep in en swem dan 'n kategorie.

My familie het almal ander dinge aan so ek is alleen by die geleentheid. Ek benut die kans om die ander swemmers dop te hou. Marizanne Grundlingh wat ek by Sunningdale swembad ontmoet het swem haar eerste plek los in die 30-40 kategorie. Sy swem met verskriklike mooi lang hale en dit lyk absoluut gemaklik en moeiteloos as sy swem. Sy sê wat onder die water aangaan is die belangrike ding!