Thursday 16 June 2016

Sing n liedjie

"I'm the one who did it, I doubt that I'd do it....." Ek is verbaas dat ek nog nie oor my oorwinning oor my vrese en vertwyfeling geblog het nie. Ek het aan my internet afrigter Mat Hudson die nuus vertel en toe nie besef dat ek nog nie hier op my blog kom spog het nie.

Ek is regtig trots op myself! Ek het die 10 km swem (my langste ooit) van Milnerton se vuurtoring tot by Big Bay voltooi.(21 Mei 2016) Dit was nie maklik nie hoor! Die water was gelukkig nie te koud nie en toe ek Mary op haar kajak agter die branders gekry het, kon ek regtig begin swem. Die water was lieflik en spieëlglad. Die sonnetjie het lekker geskyn (en al het ek sonbrand goed aan my gesig gesit het ek 'n snaakse bruin gesig met 'n witlyn oor my voorkom na die swem gehad!). Dit was eintlik 'n perfekte dag.

Ek het so lekker geswem. Dit het gevoel of ek deur die water gly. Mary het baie aanmoedigende kommentaar oor my swemstyl gelewer wat my natuurlik nog lekkerder laat swem het. Na 'n uur het ons net vir 'n oomblik gestop, ek het 'n sluk louwarm tee geneem en dadelik weer begin swem. (Ek het mos my les geleer met die te lang stoppe in die koue water met my vorige poging.)

Na die eerste stop het ek besef ek het vergeet om te kyk hoe ver ek geswem het, maar dit het nie regtig saak gemaak nie. Ons het toe elke halfuur gestop, elke maal baie kort en ek het net tee gedrink. Ek het een maal n skyfie appel geneem, maar dit het te lank geneem om te kou. Ek dink 'n piesang werk beter.

Na 6 kilometer het ek effens moeg begin voel en toe het die swem uitdagend geraak. Die wind het opgekom en die gladde see was nou  nie meer so glad nie. Die volgende twee kilometers het redelik goed verloop alhoewel ek defnitief nie meer so gelukkig was nie. Ek het seker 'n uur aan die laaste twee kilometers geswem. Mary het later voor my uit gery en ek moes haar net volg. Dit het my nogal gemotiveer en my regtig laat voel of sy my trek alhoewel ek by tye seker 10 meter agter haar was. Die golwe was nou groot en die wind sterk. My sussie en dogters wat op die wal gestaan het, sê dit het gelyk of ek nie vorentoe beweeg nie. My horlosie het nie meer die sateliet opgetel nie en wys 'n reguit lyn van die 8 km  posisie tot by die eindpunt. Ek was so moeg dat ek nie my linkerhand elke keer behoorlik uit gelig het nie en het sodoende sateliet kontak verloor.

As iemand my op daardie stadium gevra het of ek wil uit klim dink ek sou ek : "Ja asseblief" gesê het. Gelukkig het ek nie daardie versoeking gehad nie. Die verligting toe ek om die eiland swem en die baai in swem was baie groot. Die branders was toe groot, maar ek het versigtig twee "gevang" en 'n bietjie hulp daarvan gekry om nader aan die strand te kom. Toe ek kon staan het ek dadelik op hou swem. Ek was nogal bang dat 'n brander my sou omslaan en het so om kyk, om kyk uit geloop. My sussie sê dit het gelyk of ek wou omdraai en terug swem.

Wat 'n ekstatiese gevoel. Derrick het die medalje om my nek kom hang en my kinders het my na die klub gehelp. Daar het my sussie my help aan trek- ek was nie veel van 'n hulp nie. (Ek het twee nare skaaf plekke onder my arms gehad. Ek het nog nooit vantevore daar geskaaf nie en het nie vaseline daar gesmeer nie. Dit het so 'n week geneem voor dit herstel het.)  Daarna kon ek in 'n bondeltjie voor die verwarmer sit met 'n watersak op my skoot en onder my voete. 13 Grade is warmer as 11 grade maar is verseker nog koud en na die swem het dit 'n uur en 'n half geneem voor my temperatuur bo 34 grade C was. Die koppie "Hot Chocolate" was ook n lafenis.

Ek dink nie ek sou so "On top of the World" gevoel het as dit nie so moeilik was nie. Dit is die langste swem wat ek nog voltooi het. Gelukkig was net die laaste 4 kilometer moeilike omstandighede op 'n ander dag met slegter weer sou ek dalk weer die aftog moes blaas.

Ek is nou op Derrick se lys vir 'n Robben Eiland swem. Ek oefen nog steeds in die buite swembad (daar is nie n ander opsie in Riebeek Wes nie) en die 14 grade waarin ek soggens vanaf 6 uur swem is goeie voorbereiding vir die koue see. Ek kon nog nooit net in 'n swembad spring nie. Soos ek al baie op die blog gesê het, is dit die ergste vir my om in te gaan. In die see loop ek op en af tot my enkels op hou pyn. Dan bietjie dieper tot my knieë op hou pyn en so gaan ek aan- dit neem omtrent 15 minute voor ek begin swem.

Met die Robbeneiland swem moet ek van die boot af spring in die koue water. Dan eers eiland toe swem en op die strand bo die hoogwater merk staan. Dan begin my swem. Ek weet nou ek kan die afstand swem, wat ek nie weet nie is of ek van die boot in die koue water sal kan spring!

Marié