Saturday 20 February 2016

Midmar Myl

As jy al 8 myle by die Midmar byeenkoms wil swem moet jy aan die eksklusiewe 8 Mile club behoort. Dit is so eksklusief- ek sukkel om uit te vind wat ek kan doen om daar aan te sluit. In tussen probeer ek vir al 8 myl inskryf langs die gewone kanale maar vanweë 'n fout wat ek maak is ek net vir 7 ingeskryf. (Vir een het ek twee maal ingeskryf- as individu en as deel van Engrow) Toe ek my fout agterkom hoor ek dat ek nie vir 8 kan inskryf nie, dit is net vir die eksklusiewe klub beskore. (Hulle samel oor die 4 miljoen vir liefdadigheid in, so ek gun hulle die uitsonderlike status.)

Ek laat my nie hier deur afsit nie en ons vertrek Vrydag, 12 Februarie  na Durban. My dogter Hedwig gaan saam om my by te staan. Ek het al verlede jaar gesien dat my man en seun nie opgewasse vir die taak is nie. Ek gee hulle af en hulle gaan Zipline in Karkloof. Dit help baie dat ek al verlede jaar hier geswem het, want nou weet ek wat om te verwag en dat die begin en eindpunt so 4 km padlangs uit mekaar is.

Daar is busse wat die swemmers van die eindpunt na die beginpunt vervoer. Diegene wat nie helpers het om hul handdoeke te neem nie, trek vullissakke aan om nie so kaal rond te beweeg nie. Hedwig ry saam met my op die bus en kan ek elke keer by haar my nuwe "barcode" en die regte swempet kry. Sy leen my ook n sarong om om my te draai. Sy wil oefening kry en stap elke keer die 4 km terug na die eindpunt om my weer te help op die volgende terug tog.

Saterdagoggend is die eerste swem kwart oor 8. Ons is vroeg daar en ek word gemerk. Hierdie jaar het ons nie weer tydelike "tatoër merke" nie. Ek plak die plakker wat vir my swempet bedoel is op my arm en trek sodoende die sonbrandgoed af. Ek brand die dag so bietjie voor en op my arm waar ek die plakker afgetrek het.

Dit is n massa wegspring maar daar is bietjie verwarring aan die begin en ons stap eers die water in toe die beuel blaas. Ek druk my Garmin af toe ek oor die wegspring gaan en my tyd van 31:05 is n minuut en 10 sekondes vinniger as my amptelike tyd- ook my vinnigste myl van al 7 myle. Die volgende myl is amptelik my vinnigste met 31:06. Ek is amper laat vir die wegspring. Ons moes in n baie lang tou wag en daar vertrek 4 busse vol swemmers voor ons kan op klim. Ons maak lekker vriende met die gesin voor ons en hou vir hulle duim vas!

Nou weet ons, ons moet baie vinnig maak en na my swem loop ons so vinnig moontlik bus toe. My bene is lam as ek op die sitplek neersak en nou het ek eers asem om water te drink en n energie stafie te eet. Die derde en laaste swem van die dag vir my neem my 34:34. Die wind het op gekom en die water het klein golfies. Dit is nie vir my hindelik nie maar die booi wat ons verplig is om mee te swem het my defnitief stadiger gemaak. Ek swem in die see met 'n soortgelyke booi om my sigbaar vir bote te maak, maar as mens jou vinnigste wil swem veroorsaak dit defnitief weerstand.

Sondag is ons weer heel betyds by Midmar- ek wil nooit laat wees vir 'n swem nie, mens is al klaar bietjie gespanne so niks moet dit vererger nie. Ek is in die eerste groep geloot en ons spring lekker weg. Die vinnige swemmers verlaat ons gou en daar is baie plek om my pas te swem. Ek het swemmers weerskante van my en hulle help my om n stewige pas te handhaaf.
Die water lewe van die stroom swemmers wat tussen 20 minute en 'n uur na die wegspring die eindpunt bereik

Ek swem 31:47 aan hierdie myl. Ek eet 'n hard gekookte eier na hierdie swem.(Tommie se vrou sê dis my geheime wapen.) Die energie stafies raak later net te soet en ek soek die sout saam met die eier. Vir die tweede swem is ek in die tweede groep ingedeel en is die enigste vrou tussen die klomp mans. Hulle is darem baie vriendelik en gee my n plek in die skaduwee. Dit was nogal baie intimiderend om so alleen omring te wees met die klomp manne in hul speedo's.

Die resies swem ek 33:49 en word ook deur swemmers weerskante gehelp om die pas te handhaaf. Ek het nog nie die vaardigheid om te "draft" nie maar swem graag reg langs 'n ander swemmer.

Die derde myl van die dag is saam met die jongdames tussen 13-30. Hier is ek in die tweede groep (blou) ingedeel. Die meeste swemmers swem teen my spoed en daar is n klomp voor my wat eintlik bietjie stadiger swem as wat ek wil swem. Van agter is daar ook n vinniger swemmer wat aanmekaar half oor my swem. Uiteindelik kom ons verby hierdie groepie en verloop die swem verder goed met n tyd van 33:21 my naas beste vir die dag ten spyte van die swak begin.

Waar ek Saterdag bly was dat die derde swem my laaste vir die dag was, is ek eintlik jammer dat die dag verby is met my vierde swem. Die wind het weer opgekom en golfies op die dam gemaak. Ek is in my element as omstandighede meer uitdagend is en vind dit ook meer opwindend. Die laaste swem is lekker en ek eindig in 33:32. Ek is baie tevrede met myself dat ek nie soos die vorige dag baie swakker geswem het nie.

Daar is net tyd vir stort en iets vinnig eet by Van der Byl se huis voor ons lughawe toe gaan. Elfuur die aand is ons terug by die huis. Die heel week sweef ek op 'n wolkie. Dit was 'n magiese ervaring. Alles het so goed af geloop en het net weer aan my bevestig: As ek swem is ek gelukkig! Waarom o waarom het ek dit vir so baie jare nie gedoen nie? Nou gaan ek beslis nie 'n geleentheid om te swem laat verby gaan nie.

Kom swem saam.
Marié

Kaapse Myl

Op 7 Februarie vind die "Sanlam Cape Mile" by Eikenhof plaas. Die geleentheid groei elke jaar en ek wonder altyd waar al die swemmers nou vandaan kom- waarom swem hulle nie in die Freedom series en by die WP byeenkomste nie? Die kompetisie is baie stywer en is daar 41 vroue in die 51-60 ouderdomsgroep.

Ek kom 9 de met 'n tyd van 32:04. Die wenner is Cecilia Stanford in n tyd van 23 minute 18 sekondes. Ek oefen die afgelope 3 maande hard en doelgerig in die hoop om vinniger te swem en swem niks vinniger as verlede jaar nie. Cecilia swem sommer 2 minute vinniger as verlede jaar. Sal ek moedeloos word?

Dit is moeilik om vir meer as een myl in te skryf omdat mens op die webtuiste jou ouderdomsgroep merk en dan outomaties in daardie myl ingedeel word. Daar is egter n klompie swemmers wat met die organiseerders gereël het en hulle swem al 5 die myle. Daar is net n driekwartier tussen die afsit tye. Ek skryf daar in vir n tweede myl maar het darem n uur tussen in om te rus. Hier swem ek bietjie langer 33:31 en is 4 de uit die sewe vroue wat in my ouderdomsgroep deel neem.

Die weer is lekker koel, maar vir die toeskouers is daar 'n ongemaklike reen buitjie. My sussies en dogter ondersteun my so dit is n lekker gesellige oggend. Verlede jaar was ek alleen hier en is baie bly vir hul geselskap en ondersteuning.