Thursday 26 February 2015

Oefen by RPC

Ons plaasdam op Goedertrou is basies leeg. Die bietjie water wat oor is het ook baie alge in en ek moet sekere dele van die dam vermy. Knolfontein se lekker groot dam is nou 'n heelwat kleiner dam- darem nog steeds 500 m in die rondte. Die probleem is dat ek daar deur goed aangeval word wat my vreeslik byt en ek elke slag as ek daar geswem het lyk soos een met Duitse masels! Ek het ten minste 20 byt plekke oor my lyf.

Gelukkig was Alan Zondagh van die Rugby Performance Centre so vriendelik om my toe te laat om weer in hulle swembad te swem.

Ewe skielik is my tye sommer baie beter as net die vorige dag toe ek in Malmesbury geswem het. Ek vermoed onraad en tree die swembad af. Dan gaan n lig vir my op. Die swembad is seker meer as 50 jaar terug gebou toe die Sement fabriek nog deur die Ingelse besit is en Cape Portland Cement geheet het. Hulle het dit natuurlik in Yards gebou en nie in meter nie. 25 Jaart is net onder die 23 meter en ek swem ongelukkig nog teen dieselfde spoed. (Die sportgronde is verkoop en tans in die besit van Alan Zondagh wat sy Rugby Performance Centre hier gevestig het)

Dit is nou weer lekker om gereeld in die swembad te oefen. Ek kan my effektiwiteit meet en bepaal of my verstellings 'n verbetering in spoed bewerkstellig. Ek moet soggens voor 8 uur klaar geswem wees. Dit is n goeie begin vir elke dag. Waar ek twee jaar terug gesukkel het om in die water te gaan as dit nie n lekker son skyn dag is nie, is dit nou vir my tweede natuur en gaan ek maklik selfs in die half donker in die water. Ek moet 6vm by die swembad wees as ek 4-5 km wil swem.

Ek is ingeskryf by die Total Immersion Academy. Dit kos n maandelikse fooi maar daarvoor is al die videos en ook Terry Laughlin se nuwe boek op die Akademie beskikbaar. As mens raad nodig het is daar altyd n TI coach op die forum om te help. Suzaan Atkinson het ook n 12 weke program hierop wat ek nou gaan begin volg.

Ek lees gereeld Mat Hudson se blog. As n fondasie om jou swem tegniek te bou stel hy dit dat jy in n proses moet glo en die proses moet vertrou. Dit het ek nou net weer besef. Daar is baie verskillende benaderings in die swem wêreld. Ek glo in die Total Immersion filosofie en in my aanlyn afrigters. Ek kan nie n baster benadering volg deur ander idees met TI idees te vermeng nie. Dan sal die proses nie effektief wees nie en sal ek nie resultate verkry nie. Sommige benaderings soos die een waar krag en vinnige SR beklemtoon word is nie versoenbaar met TI nie. Total Immersion beklemtoon juis dat hierdie tegnieke oor n kort afstand werk maar oor die langer afstande soveel weerstand kan veroorsaak- n 10 % groter spoed veroorsaak 80 % meer weerstand, dat dit net te uitputtend is om volhoubaar te wees. Volgens die TI proses is balans en vaartbelyning die boustene waarop spoed later gebou word. Hierdie boustene moet gereeld verfyn word deur te probeer vasstel waar verbeterings nog aan gebring kan word.

Ek weet reeds dat ek nie altyd my kop in die water laat hang nie en dat ek met asemhaling my kop ook oplig en nie net draai nie. Hierdie aspekte gaan my fokus punt vir die volgende twee weke wees. Swem op die TI manier betrek jou verstand en jou liggaam en om so intens betrokke by die proses te wees is opwindend en maak elke swem n unieke ervaring. Geen vervelige op en af swemmery vir n TI swemmer nie!

Tuesday 24 February 2015

Cape Mile

Die Cape Mile is deur Stillwater Sport georganiseer. Hulle het n vreeslike indrukwekkende "stadion" gebou. Na jou swem moes jy omtrent 300 m oor die hele krieketveld loop (tussen die beeshekke deur) om jou medalje te kry. Hier het ons ook n chip aan die been gehad soos met Midmar. Waar my Midmar tyd ooreengestem het met die tyd op my Garmin was die voorlopige tyd in ooreenstemming maar hul finale tyd was aangepas en was omtrent n minuut uit met my Garmin.

Dit was n baie lekker swem met baie mede deelnemers (weet nie waarom hulle nie almal ook by die WP swem nie) so ek kon weer eens net vir hulle dophou om om te sien waar ek moet swem.

Ek voltooi dit in die 8 ste plek in n tyd van 34 min 50 sekondes en volgens my Garmin in 33 minute 26 sekondes. Ek swem 1:53 minute per 100 meter oor die afstand van 1777m. Ek was spyt dat ek nie ook vir die ander myle ingeskryf het nie, maar mens skryf vir n ouderdomsgroep in en swem dan 'n kategorie.

My familie het almal ander dinge aan so ek is alleen by die geleentheid. Ek benut die kans om die ander swemmers dop te hou. Marizanne Grundlingh wat ek by Sunningdale swembad ontmoet het swem haar eerste plek los in die 30-40 kategorie. Sy swem met verskriklike mooi lang hale en dit lyk absoluut gemaklik en moeiteloos as sy swem. Sy sê wat onder die water aangaan is die belangrike ding!

Sunday 8 February 2015

Midmar

Ek was nie van plan om al hierdie jaar die Midmar myl aan te durf nie. Ek het gedink ek sal eers my tyd probeer verbeter. Die vinnigste vrou in my ouderdoms groep het verlede jaar die myl in 25 minute af gelê. Ek sal nog baie moet verbeter om naby daardie tyd te kom. 5 Sekondes vinniger swem verg ure se oefen en ek moet 7 minute vinniger swem.

Toe Van der Byl in Oktober verlede jaar hoor dat hy wel Pietermaritzburg toe gaan vir sy Internskap het ek dadelik my plek in twee "events" by Midmar bespreek. Ek kon sommer vir my seun gaan kuier en saam met die duisende ander mense aan die grootste oop water byeenkoms ter wêreld deel neem.

Ek het Saterdag in die eerste byeenkoms geswem. Individue, gestremdes en Dusi deelnemers kan hier inskryf. Daar is 29 vroue in  my ouderdoms groep wat hiervoor inskryf en my tyd van 32 minute 13 sekondes besorg aan my die 4 de plek en die wenner in die ouderdomsgroep se tyd is 30 minute 40 sekondes. Ek behaal ook die 200 ste plek van die 901 deelnemers in hierdie groep. (Daar is n hele klomp deelnemers wat vir al 8 "events" inskryf. Hulle swem met goue pette)

Op Sondag swem ek in my ouderdoms groep "Event 5". Daar is altesaam 1375 inskrywings in hierdie klas van dames onder 13 en bo 30. Ek behaal die 318ste plek en die 16 de plek in my ouderdomsgroep (51-60 jaar) van die 142 inskrywings. My tyd van 31 minute 25 sekondes is my vinnigste myl tot dusver. Rita Townsend en Gail Bristow swem 'n halfminuut vinniger as verlede jaar en die wentyd is 24 minute 25 sekondes.' n Hele 7 minute wat ek sal moet verbeter as ek vir hulle kompetisie wil wees!

Ons gebruik die geleentheid om saam met Van der Byl die provinsie te verken. Ons besoek die slagveld van Bloedrivier en hoor hierdie aangrypende verhaal van albei kante van die rivier. Ons koop lekker vleis op Estcourt by die Eskort fabriek/slaghuis en sien werklik die landelike gebiede van Kw- zulu Natal. Dit is werklik n baie, baie mooi deel van ons land.

Van der Byl is nog volgende jaar hier en dan wil ek graag aan 4-6 van die "events" deelneem. Die atmosfeer is baie gesellig en met die baie swemmers op die water is dit nie moeilik om rigting te hou sonder om op te kyk nie- ek maak net op die ander swemmers staat. Volgens my Garmin het ek darem nie te skeef en krom geswem nie (maar beslis ook nie in n reguit lyn nie).