Sunday 31 January 2016

Onder 20 Sowaar

Vandag het ek die 1 km resies  in die WP kampioenskappe by Eikenhofdam geswem, . Gister was die 3 km maar ek wou nie nog n dag die 350 km rit aan pak nie. Ek het besluit dat ek alles sal insit en kyk of ek nie onder 20 minute kan swem nie. Die afgelope 2 maande het ek hard gewerk om al my tegniek foute uit te stryk en te verbeter.

Die laaste maand het die klem geval om n vaste aantal hale per swembad lengte te swem. Hierdie SPL moes bewaar word onder die klein veranderinge wat my meer hale per minuut sou laat uitvoer. As ek byvoorbeeld my arm vinniger vorentoe swaai (recovery) moes ek dit teen so n spoed doen dat my hale per swembad lengte net met 1 haal verhoog. Ek moes dus baie noukeurig waarneem hoeveel vinniger ek dit doen sodat ek nie meer as net een ekstra haal neem nie.

Hierdie oefening en observasies is nodig om te verseker dat ek my effektiwiteit behou en nie uiteindelik "stadiger" swem al voel dit vinniger omdat my arms vinniger beweeg nie.

Gister het ek met die Tempo Trainer gewerk en die tempo van 1.15 met .01 verlaag tot ek teen 'n tempo van 1.05 sekondes per haal geswem het. Ek kon my effektiwiteit behou maar was taamlik uitasem. Ek is nog nie in die fase waar ek dit eintlik moet inoefen nie so die versnelde tempo is nog "nuut". Ek het darem geweet hoe dit moet voel.

Vandag kon ek tydens die 1 km swem die versnelde pas handhaaf. Ek haal moeiliker asem na my linkerkant en haal dus dikwels eers elke 4 de haal asem (na die regterkant) in plaas van elke 3 de haal- regs en links. Vandag het ek meestal elke 2 de haal, dus net na die regterkant asem gehaal. Dit het verseker dat ek genoeg suurstof kry en nie uitasem raak nie. Ek kon die heeltyd 'n stywe pas handhaaf en volgens my dogter se selfoon het ek 19 minute 37 sekondes geswem. Hoop die amptelike tyd bevestig dit.

Ek voel baie in my noppies. Ek besef net weer eens mens swem nie ewe skielik vinniger net omdat jy wil nie! Jy kry dit alleeen reg deur doelbewus en stelselmatig daarvoor te oefen. Volgende week swem ek die Cape Mile en hoop om daar ook 'n PB te kan swem.


Geniet elke swem- al is dit nie so vinnig soos jy graag sou wou swem nie!

Marié

No comments:

Post a Comment