Wednesday 6 January 2016

'n Swem vakansie

Op ons eerste dag by Buffelsbaai het ons dadelik see toe gegaan. Half sewe die aand was dit nog lekker warm en ons het die brandertjies gaan beproef. Die volgende dag wou ons na 'n lang stappie gaan swem, maar toe is die strand gesluit want 'n haai is gewaar.


Kersdag het ek en Pieter (my skoonsuster se seun) net agter die branders heen en weer geswem en toe was dit verby! Ek kon nie langer weerstand bied nie. Ten spyte van my belofte het ek die volgende dag die see in geswem. (Die lewensredders het mos nou die see vir haaie gepatrolleer) Ek het my Chill swim booi gehad om my mooi sigbaar vir bote te maak. Ek het telkens so 400 m see in geswem tot by die agterste surfers dan het ek om gedraai en skuins nader aan die kus geswem. As ek die driehoek voltooi het met n parallelle swem agter die branders het ek so 1 kilometer voltooi.

As die water lekker was het ek my swembooi op die strand gaan sit en bietjie branders gaan ry. Met my swempet en goggles het ek seker vir die ander swemmers baie snaaks gelyk, maar ek is so gewoond om so te swem dat my oë gebrand het sonder die goggles.

Op Oujaarsdag het ons kano's gehuur by Eb en Flow (Cape Nature) by Wildernis en my kinders en man het op geroei in die Touwrivier (2,7 km). Ek het agterna geswem. Waar die water te vlak word, los mens die kano's en stap dan 3 km tot by n lieflike waterval. Daar het hulle lekker geswem, ek het maar gewag vir die terugtog om verder te swem. Die water vlak het aansienlik gestyg met die terug keer as gevolg van die inkomende gety en ek kon die hele tyd swem. (Die oggend het ek so 300 m saam gery toe die water te vlak was) n Lekker 5,2 km vir die dag.

My voornemens om in die Goukamma rivier te swem het bietjie skipbreuk gelei. Ek was bietjie bang om alleen daar te gaan swem en het eers later uit gevind dat Cape Nature ook daar kano's verhuur. Hopelik het ons ons eie kano's teen die volgende vakansie by Buffelsbaai.

Wat n lekker manier om 2015 vaarwel toe te roep.

Marié


No comments:

Post a Comment