Saturday 19 December 2015

n Afrigter op die internet

Ek is lankal 'n gereelde leser van Mat Hudson se blog. Hy bied n kursus oor die internet aan wat hy "Stroke mastery and pace control" noem. In November het ek besluit om die kursus vir 'n maand te beproef. Mat bly in kontak met sy swemmers en gee terugvoer sodra jy rapporteer. Dus hoe beter jou waarnemings en beskrywing daarvan aan hom hoe makliker kan hy konstruktiewe kommentaar lewer.

Mat het ook n hele biblioteek van inligting met atikels, uitgebreide fokus punte, voorbeeld "practice" sessies om sekerre doelwitte te bereik en nog vele meer. Dit alles het hyself opgestel en ontwikkel oor die jare. Dit is n goudmyn van inligting. Ek floreer in hierdie omgewing waar my brein ook gestimuleer word.

Ek is nou vir die tweede maand besig en gaan dit defnitief oor die lang termyn  doen. Tot nou het ek op die individuele aspekte van die TI tegnieke gefokus en is nou op die punt waar ek dit alles integreer. Ek het my SPL redelik  konstant op 17 hale per swembad lengte (Die swembad waarin ek meestal swem is 25 jaart- ek handhaaf 19 hale in 'n 25 m bad en 48 hale in 'n 50 meter swembad) Dan sal ek na die volgende vlak beweeg waar ons met behulp van die tempo trainer "ratte" ontwikkel om na willekeur te kan versnel of die pas verlangsaam.

Terwyl ek aan my tegniek werk. kry ek ook oefening en was ek fiks genoeg om by die November en Desember WP byeenkomste 3km en 1k te swem. Ek het nog nie soos in die begin van die jaar ook 5 km op dieselfde dag geswem nie. Ek dink nie ek is reeds fiks genoeg om dit te doen nie en het ook gesien dat my liggaam af gebreek word deur so n vreeslike sessie en dan n paar dae neem om te herstel. Ek het ook baie pyn in elke vesel van my liggaam.

Oor 3 dae vertrek ons na Buffelsbaaie waar ek lekker gaan branders ry (my kinders verbied my om na verlede jaar se haai aanval daar in die see te swem) en ek sal in die Goukamma rivier swem. Kan nie meer wag nie!

'n Geseënde feestyd aan al my lesers, mag julle ook lekker swem.


Marié

Wednesday 7 October 2015

Om vinniger te swem

Ek is nou al lank besig met die doelwit om vinniger te swem. Ek het in die somer seisoen van September 2014 tot Mei 2015 in totaal  432 kilometer geswem Ek het gedink langer afstande en meer dikwelse oefening sou my vinniger maak. Ek het in die winter weer 'n TI kursus by gewoon om tegniek foute uit te stryk. Ek het gehoop dit sou my vinniger maak.  Ek het in September net op tegniek gefokus  in die 36 kilometer wat ek die maand geswem het. Dit alles het weinig by gedra en het ek steeds teen ongeveer 20 minute per kilometer geswem.

Nog n legkaart stukkie van die TI swem het nou eers weer in plek geval. Volgens Terry is die "swem vinniger" n komplekse saak, maar die wiskunde daar agter is eenvoudig. Die spoed waarteen jy swem word bepaal deur die lengte wat jy beweeg met elke arm haal (Stroke Length)vermenigvuldig met die aantal hale wat per minuut uitgevoer word.(Stroke Rate)

Strook lengte word beinvloed deur jou eie lengte of eintlik jou "wingspan", vanaf die vingerpunte van jou regterhand tot die vingerpunte van jou linkerhand. Myne is 165 cm dus kan ek optimaal verwag om 75% van hierdie lengte met n armhaal vorentoe te beweeg. Dit is 1.23 meter. Na analisering van my hale besef ek dat ek eintlik  maar net 1.05 meter per haal beweeg. Ek kan dus nog 15 cm per haal verbeter en moet eintlik net 16 hale neem waar ek nou 18-19 hale neem in die 25 jaart swembad.

Swim Smooth het 'n programmetjie wat jy kan gebruik om te bepaal hoe vinnig jy sal swem as jy n sekere aantal hale per minuut neem en n sekere aantal hale neem om deur n 25, 50 meter of 25 yd swembad te swem. Daarvolgens is dit vir my duidelik as ek nie meer effektief kan swem en verder met elke haal beweeg nie, is my enigste alternatief om my hale vinniger uit te voer.

Ek hou van die lang gemaklike hale wat ek tot dusver geswem het en ja ek was verseker op 'n gemaklike plek. Ek kan nou sien dat ek doelwitte en ideale het wat nie met die werklike situasie strook nie. As ek my doelwit om vinniger te swem wil bereik sal ek my gemaksone moet laat vaar en doelbewus oefen om my arms vinniger vorentoe te beweeg.

Op hierdie stadium is dit vir my baie uitputtend om so te swem. Terry Laughlin  reken dat dit eintlik meer uitputtend vir die brein is en die aanpassing wat die brein moet maak om hierdie verandering volhoubaar te maak is die moeilikste deel van die leer kurwe.

Wel ek moet bieg- ek het naiewelik gedink dat "spoed" vanself sal gebeur as ek net hard werk. Ek besef nou dat ek op die verkeerde manier hard gewerk het. Ek moet van nou af doelbewus met die Tempo Trainer werk om milli sekondes van my bewegings af te skil om sodoende vinniger te kan swem. In die proses moet ek nie meer hale neem om 'n lengte te voltooi nie. Ek moet dus geleidelik vinniger hale uit voer sodat my tegniek steeds so goed as moontlik bewaar word. (As ek natuurlik my tegniek terselftertyd kan verbeter en verder met elke haal kan beweeg, sal ek nog vinniger my doelwitte bereik.)

Ek het vandag reeds n stewige 3 km met my nuwe benadering geswem. Ek kan rapporteer dat ek my spoed van 1 min 44 sekondes per 100 jaart gehandhaaf het oor afstande van 350jt, 400 jt en 450 jaart. Dit is natuurlik die ander kwessie. Dit help nie ek swem vir 50jt  vinnig nie, maar ek kan nie dieselfde spoed oor n kilometer, 'n myl en selfs 5 km handhaaf nie.

Ek besef ook dat realistiese verwagtinge sekerlik sal wees dat ek nie meer as 1 en half minuut oor n kilometer sal verbeter nie. So vir hierdie seisoen stel ek my doelwit op 18 minute 30 sekondes vir n kilometer en 55 minute 30 sekondes op 3 kilometer. As ek dit reeds kan reg kry met die Januarie WP byeenkoms sal ek baie in my noppies wees. Andersinds hoop ek om die myl teen Februarie in 29 minute te swem. Met oop water is daar ongelukkig baie veranderlikes en kan ek nie noodwendig die tyd behaal nie al swem ek vinnig genoeg. As ek nie behoorlik kan sien nie of ek volg ander swemmers wat skeef en krom swem, kan ek wel teen n vinnige genoeg spoed swem maar nogtans nie my doel swem tyd bereik nie. Ek weet nie hoe 'n blinde mol moet oefen om te sien nie? en in die water is ekbaie keer  na aan blind.

So swem vinniger as jy vinniger tye wil behaal. As jy op so n mooi plek soos ek kan oefen- is dit natuurlik maklik om gemotiveer te bly.


Marié

Saturday 26 September 2015

Erfenisdag Swem

Ek het lank gewik en geweeg of ek vir die 1 of 3 myl sal in skryf by hierdie swem. Gelukkig het wysheid seëvier en ek het vir die 1 myl ingeskryf. Toe ek nader aan die laaste booi swem was ek so bly ek hoef nie nog 2 maal weer daarom te swem nie. Ek was nog nie moeg nie en sou sekerlik nog n myl kon swem, maar daarna sou die koue net te erg vir my gewees het.

Die water was 13 grade wat heelwat warmer was as baie ander swemme. Dat dit nog steeds baie koud is moet jy verseker weet. Ons moes in swem tot by die booi waarna Derrick die afsetter fluitjie sou blaas. Ek het rustig geswem om eers aan die koue gewoond te raak. By die booi gekom sien ek almal is al aan die swem so ek swem toe ook maar net saam.

Met my eerste 1SOMS swem het ek gewag dat almal eers weg trek. Ek het gou besef dis n fout want toe moet ek alleen op my eie swem. Ek sorg dus as ek enigsins kan om saam met die groep swemmers weg te trek. Na n afstand dun ons uit en beland ek altyd by n groepie wat min of meer so vinnig soos ek swem. Ek sien baie sleg op die water en dit is vir my net makliker om die swemmers rondom my dop te hou.

Tot by die laaste booi voor ons moes draai het ek weer so n lekker groepie gehad om saam mee te swem. Na die booi het die groepie uit mekaar begin swem. Ek kon darem die heel tyd swemmers sien. Ek het soos so dikwels vergeet om my Garmin aan te sit en dit eers na so 600 meter aan gesit. Ek het baie stadig geswem, 2 min 21 sekondes per 100 meter. Ek skryf dit toe aan die baie deinings op die see wat mens nogal rond geskommel het en ook aan die gety. Alhoewel ons seker met die uitswem deur die gety bevoordeel is, was die terugswem defnitief deur die gety bemoeilik. Dankie tog dat ek nie 3 myl geswem het nie en 3 maal teen die gety moes beur nie.

Na die swem was ek nie so koud nie, maar het geleidelik al hoe kouer en kouer geraak. Ek was darem goed gewapen met n kombers en watersak, maar het dit eers aan n jong man geleen wat dit defnitief meer as ek nodig gehad het. As mens nog nie aan die koue water blootgestel was nie, weet jy nie om gewapen na die swem te kom nie. Ek is bly dat ek darem al minder geaffekteer word deur die koue water as aan die begin.

Ons was 68 swemmers wat die myl geswem het. Ek het 35 ste in die groep gekom met n tyd van 37 minute 26 sekondes. Uit die 12 vroue wat sonder n "wet-suit" geswem het was ek 4 de.

Dit was n baie lekker swem en n goeie begin vir die seisoen vir my.

Na die swem het ons gaan eet by TASHA en toe het ek 'n nuwe Arena swembroek gaan koop. Na twee jaar is die meeste van my swembroeke gaar. Ons kry toe hierdie dames, so mooi aangetrek vir Erfenisdag by die winkelsentrum.

Die dag is wel met n stukkie braaivleis af gesluit!

Marié



Wednesday 23 September 2015

Goeie Gewoontes

My grootste uitdaging na die drie maande se min swem oefening is om weer die goeie gewoonte te vestig. Die geheim is om op te staan, aan te trek en te ry. As ek eers kyk hoe die weer lyk, of buite toe gaan om te voel hoe koud dit is, praat ek myself maklik uit die swem uit. Vanoggend het ek net gegaan. In die motor sien ek toe dat dit maar 11 grade buite is, wat toe na 10 grade verminder!

Die water was gelukkig op 17 grade warmer as die ander dae so dit was eintlik maklik om in te gaan. Vandag het ek gekonsentreer om my SL (Stroke Length) langer te maak. Dit doen ek deur vorentoe te strek, wat my outomaties op my sy laat kantel en my dus ook terselftertyd meer vaartbelyn maak aangesien ek op my sy minder weerstand teen die water massa bied. Dan moet ek konsentreer om n "patient lead hand" te hou en te wag tot my ander hand die water in gaan alvorens ek die volgende haal begin. Dit verhoed dat ek onstabiel in die water raak en behou n vorentoe gly aksie.  Dit is nou jare se slegte gewoonte van malende arms wat ek moet probeer verbreek.

Vandag was ek weer eens so bly dat ek nie met n plankie hoef te skop nie. Eintlik was "Speed Boat" waar mens sonder n plankie moes skop met jou kop tussen jou uitgestrekte arms, nog erger. As jy dan jou kop lig om asem te kry het jou bene gesink en moes jy veg teen hierdie gevoel dat jy gaan verdrink. Wat ons nie aan gedoen is in die naam van goeie swemlesse nie! Met TI  hoef ek glad nie te skop nie. Ek druk net met my voet so teen die water om te help dat ek meer op my sy kantel. Dit is glad nie n uitputtende skoppie nie.

Ek het ook daarop gekonsentreer om "propulsion" te bewerkstellig deur my "high hip" vorentoe te beweeg wanneer ek my arm vorentoe werp. In hierdie rotasie word energie na vore gekanaliseer.  Hier is nog baie versnelling weg gesteek, want ek kan voel as ek dit met tye doeltreffend reg kry, hoe ek versnel. My beste SPL vandag was 16 oor die 25 jaart swembad maar ek het oor die algemeen 17 en 18 hale geneem. Ek gaan nou eers baie hard daaraan werk om dit te verlaag na 14-16 hale. Ek weet reeds dat ek nie hou van n vinnige SR (stroke rate) nie en om die wiskunde reg te kry is die enigste oplossing om op lang effektiewe hale en minder daarvan te konsentreer.

Ten spyte daarvan dat ek glad nie op spoed gekonsentreer het nie, het ek n gemiddelde tyd van 1 min 49 sekondes per 100 jaart geswem. Dit teenoor 3 dae terug waar ek op spoed gekonsentreer het en slegs 2 sekondes vinniger per 100 jaart was. Dit is duidelik dat hierdie die wen pad is en dat ek net meer effektief moet wees in my poging om my SL langer te maak en my SPL (Stroke per length) te verminder.

Wanneer laas het jy jou hale per lengte getel? Hoe meet jy jou effektiwiteit?

Swem en geniet elke oomblik.

Marié

Saturday 19 September 2015

Die Seisoen begin

Met die Freedom Swem Series en elke 1 ste Sondag van die maand swem, eindig ons swem seisoen nie eintlik nie. Ek het familie troues gehad wat mee gebring het dat ek nie die Publieke vakansie dae se swemme kon doen nie en was ook nie hier op twee Sondae nie. Afgesien daarvan was die water so koud en dit nog so donker soggens dat ek nou eers regtig weer in September begin oefen het. Ek swem elke dag n bietje verder en het gister eers  3 km geswem, die afstand wat ek aan die einde van Mei elke dag geswem het. My doel is om ten minste 5 dae in die week te swem, maar as ek nie probeer om elke dag te swem nie, eindig ek die week met net drie of 4 dae.

In die wintermaande het ek weer n TI kursus gedoen, by Nicola Joubert die keer. Dit was weer baie leersaam en ek was eintlik geskok om op die video te sien hoe sleg ek swem. Ek roteer nie behoorlik aan my linkerkant nie en vergeet skoon van die "patient lead hand". Ek kan die kursus maar elke jaar herhaal. Ek het die "two beat kick" uiteindelik bemeester en moet nog net die tydsberekening verfyn sodat dit n behoorlik geintegreerde skop is.

Die wonder van TI is dat mens nooit op hou leer nie en elke dag die uitdaging het om beter te swem as die vorige dag.

Die water is soggens 15-16 grade en alhoewel die seewater van 11 en 12 grade nie vir my n probleem was in Mei nie, is dit nou weer 'n mssie om van vooraf gewoond te word aan die koue water. Dit is net die in klim wat n probleem is, as ek eers in is, is dit net pure plesier. Ek het al heroorweeg om nie die 24 ste September die see swem te gaan doen nie, maar ek moet iewers begin en gaan net n myl swem. Ek gaan maar soggens met my warmfles en watersak swembad toe sodat ek makliker kan opwarm. Ongelukkig is die geyser net aan as daar gaste is by die Rugby Performance Club en kan ek nie altyd met n lekker warm stort my swem afsluit nie.

Nou het ek al gesien dat iets soos die koue en die koue water maklik n demper op my lus om te gaan oefen te plaas. Daarom fokus ek net om op te staan, my warm fles te maak en dan te ry. Ek dink nie verder nie- dit is die enigste manier om die gewoonte te vestig. As ek eers reg is om in die swembad te klim, het ek geen ander opsie nie. Ek kan nie net weer die 8 km onverrigter sake terug ry plaas toe nie en moet maar in klim. Dan is dit net 5 minute en ek swem heerlik.

Ek het al 22 km hierdie maand geswem- my Garmin hou vir my mooi boek van my afstand en tye. Ek is regtig obsessief oor my horlosie en my tye. Ek swem weer teen dieselfde spoed as wat ek teen die einde van Mei geswem het. Al konsentreer ek hoe hard op my vorm en tegniek sien ek nie n verbetering in my tye op n daaglikse basis nie. Ek weet nie of ek regtig vinniger kan swem nie? Wat ek wel op gemerk het toe ek nou die dag n ou swembroek aan gehad het wat al sy elastisiteit verloor het, is dat ek baie stadiger geswem het. Ek skryf dit daaraan toe dat die swembroek meer water absorbeer en dus swaar is en weerstand veroorsaak. Dit beklemtoon net weer vir my die feit dat my liggaam in die optimale vorm in die water moet wees om die mins moontlike weerstand te veroorsaak.

Ek sien uit na n seisoen waarin ek lekker kan oefen. My doelwit vir hierdie seisoen is om my swem te geniet, te werk aan my swem tegniek en indien moontlik n bietjie vinniger as die vorige seisoen te swem.

Ek sien julle in die water.

Marié

Sunday 29 March 2015

Around The Rocks

Die swem vind in Big Bay plaas en ek voel meer gerus- alles is nie vreemd nie. Ons swem eers deur bietjie see bamboes diep see in en draai dan om n booi. Hier sluit ek by n groepie van 7 swemmers aan en dit is lekker om so saam met hulle te swem. Dit verg nogal konsentrasie om in niemand vas te swem nie en ek swem maar na die linkerkant van die groepie en kan nie enige voordel kry om van ander swemmers te "draft" nie. Ek verkies dit so, as wat ek in iemand vas swem.

Die roete gaan rondom twee groepe rotse. Toe ek om die verste groep rotse swem is ek 'n entjie van die ander swemmers en skielik gewaar ek 'n klein rob met skerp tandjies wat onderstebo onder deur my swem. Ek skrik my boeglam maar besef dit is net 'n rob. Die volgende oomblik swiep n groot grys gevaarte ook onder my verby. Ek swem vinnig nader aan die ander. Hul reaksie maak dit vir my duidelik dat die rob ook onder hulle gesewm het.

Nou is ons almal aangevuur en swem ons sommer nog vinniger. Ek voltooi die 2,4 km in 46 minute maar is weer deur 'n gety bevoordeel wat my help om hierdie lekker vinnige tyd aan te teken.

Na die swem is ek nie so koud nie en n lekker warm stort en die sonnetjie in die binne vierkant terwyl ons die wenners geluk wens, help om vinnig warm te word. Na die vorige week se hipotermie, is die vinnige herstel 'n genade.

Die robbie het verseker dat dit een van my onvergeetlike swemme sal wees.

Marié

Sunday 22 March 2015

Kampsbaai

Die swem begin vinnig in yskoue water. Derrick gee ons nie kans om twee keer te dink, om draai, te oorweeg of koud te word nie. Die eerste deel see in swem ek lekker en my nuwe bril maak dit n plesier.

Dan maak ek n fout toe ek om die booi draai. Van die land het dit vir my gelyk of ons na ons by die booi gedraai het dwars oor die baai swem. Die ander swemmers mik reguit land toe en ek is verward. Ek stop en kyk en weet nie lekker watter koers om in te slaan nie. Ek begin weer swem maar stop en nog n klomp swemmers gaan verby my. Ek besluit om dan maar ook in dieselfde rigting as hulle te swem maar voel die heeltyd verward en asof ek in die verkeerde rigting is.

Dan sien ek die booi en voel meer gerus. Nou is ek egter op my eie en die water is baie koud. Ons swem dieselfde roete drie maal. Daar is ook  ander deelnemers wat net 1 myl swem en dus een maal om die twee booie en dan nader aan die land swem. Dit verwar my ook eers weer voor ek sien na watter booi ek moet mik.

Die volgende rondte is ek meer gemaklik want ek weet nou dat ek land toe moet mik. Met die derde rondte raak ek baie koud. Naby die eindpunt voel dit vir my of ek baie lekker swem en glad nie nodig het om asem te haal nie. Toe weet ek dat ek by' n gevaar punt is. Ek het  op daardie stadium 'n roeier op 'n bord by my en kan net konsentreer om te kyk waar sy is.

My sussie is gelukkig by die eindpunt en gaan help my om vinnig in droë klere te kom. Ek is soos n zombie en kan net soos n dooie mens met my warm watersak en kombers sit en kyk terwyl die prys uitdeling plaasvind. My sussie en haar man besef ek kan nie huis toe ry nie en sy ry my motor tot op Melkbos. Daar kan ek in 'n warm bed weer tot verhaal kom.

Alhoewel ek altyd baie koud na 'n swem is, is dit my ergste kennis making met hipotermie. Ek glo die verwarring wat ek ervaar het en die stadiger swem terwyl ek probeer uit maak het waarheen om te swem, het baie hier toe by gedra. Natuurlik was die water van 10 tot 11 grade ook n groot bydraende faktor. Ek swem die drie myl in 1 uur 48 minute. Elke swem is anders en mens kan dit nie vergelyk nie, maar ek het die vorige week die 5 km in 'n baie korter tyd af gelê. Ek het baie tyd verspil met my "verwarring" en leer n goeie les- moenie die ander swemmers "second gues"s nie- en as hulle verkeerd is wees eerder saam met hulle verkeerd!

Wat sou ek doen as my sussie nie daar was om my te help nie? Ek sou beswaarlik in my droë klere kon kom sonder haar hulp. Dan sou ek maar in my warm motor gesit het en heel waarskynlik ook bietjie geslaap het tot ek beter voel en dan huis toe ry. Dit sou baie lank duur en ek is maar net weer bewus dat ek maar iemand saam met my moet hê op my swem om veilig te wees.

Hipotermie is n koue water swemmer se nommer een vyand. Hulp van familie of die organiseerders is onontbeerlik. Warm watersakke, sokkies aan jou voete en n mus op jou kop help baie om na die swem te herstel. 'n Warm drankie soos die hot Chocolate wat die organiseerders gereed het help ook om mens van binne warm te maak. Ten spyte van die nare koue as mens se "core" temperatuur so verlaag bly die swem net te lekker en maak dit die moeite werd om hierdie slegte nagevolge te trotseer.

Sien jou in die koue water.

Marié

Sunday 15 March 2015

Shipwrecked, n Swem vanaf die Seli se wrak

'n Lekker bonus was om die naweek twee swemme te doen. Die 5 km swem was van die Seli  wrak in Table View na Big Bay ander kant Bloubergstrand. Die begin van 'n swem is nie meer vir my 'n stresvolle situasie nie. Ek hou net my kop af en swem! Solank ek swemmers rondom my het, kyk ek nie op en soek die booi nie, ek sorg net dat ek in die bolling bly. Dan begin die vinniger swemmers weg trek en vind mens jou groepie. Ek swem aanvanklik saam met so 5 ander swemmers. Hulle swem nader aan die land en mik nie na die woonstel blok wat vir ons as mikpunt voorgestel is nie. Ek bly in die diep water en bevind my gou op my eie. Daar is n motorboot wat gereeld oor my waak en ek voel glad nie bang nie.

My enigste probleem is my bril wat op wasem en dit dan baie moeilik maak om te "sight". Ek neem my voor om n nuwe bril te koop en ook van die "Anti-fog" spuit goed. Ek het al gelees dat dit nie juis "n verskil maak nie, maar enige iets is beter as om so blind te voel. Dit help ook nie ek stop en maak my bril skoon nie want net die volgende paar hale daarna is die wasem eens so erg.

Naby aan bloubergstrand kom "n swemmer met n persoon op "n "staan plank" baie vinnig verby. Ek probeer hulle vang en saam swem, maar hulle is te vinnig vir my. Tog raak hulle nie weg nie en bly so 50 meter voor my. Ek kan nou maklik  die staande persoon op die plank sien en dit is baie makliker om koers te hou. Te gou is die swem verby en kan ek tussen die rotse deur swem oppad na die strand.

Ek geniet dit om die see uit te gaan. Ek het as kind baie ge- "body surf" en waar dit party swemmers verskrik om in die branders die strand te haal, is dit vir my soos my kos. Natuurlik voel ek weer jonk as ek hierdie jeug ervaring weer kan beleef. Dit neem my1 uur 34 minute om die swem te voltooi. Die laaste gedeelte is ons deur die gety bevoordeel en swem ek dus heelwat vinniger as die spoed waar teen ek in die swembad swem- dis tog te lekker!

Die swem, georganiseer deur Derick Frazer en sy span by Big Bay Events, is soos altyd n plesier om aan deel te neem. Moenie hul swemme mis nie!

Marié

Saturday 14 March 2015

Die lekkerste swem

Die lekkerste swem vir baie swemmers is die jaarlikse swem by Langebaan om die eiland. Dit was vir my ook regtig n baie besondere swem en defnitief een van my lekkerste swemme ooit- Hawai tussen die skilpadjies wen wel met n kort kop.

Ek het gedink dat Langebaan self al in die strandmeer is, maar dit is eintlik nog deel van die see hoewel in n baie veilige baai. Die water was nogtans koud, n goeie 14 grade. Mens swem reguit na die eiland en draai dan regs om met die eiland aan jou linker skouer daarom te swem. Daar was lieflike see bamboes en ander onderwater plante waaroor mens n groot gedeelte van die tyd geswem het. Dit is vir my heerlik as ek so oor hierdie goed "vlieg". As die bamboes so wieg in die water lyk dit of mens nog vinniger swem.

In die begin was ek saam met n paar ander swemmers, maar hulle het vir my weg geswem en ek het weer vir n paar ander weg geswem. Aan die ander kant van die eiland het ek vir n lang ruk alleen geswem. Elke slag as mens om n blinde draai gaan sien jy dat jy nog nie die eindpunt kan sien nie en dan ewe skielik is die einde sommer baie naby.

Ek swem die laaste stuk met ekstra woema. Ek vergeet om my horlosie aan te sit en doen dit eers as ek n kwart van die afstand af gelê het. Ek swem teen n spoed van 1: 52 min per 100 meter maar dink dat die gety my plek plek gehelp het. Ek voltooi die swem (3 km volgens die organiseerders) in 56 min 34 sekondes.

Ek is glad nie naby die wenners nie, tog voel elke swem soos n oorwinning. n Oorwinning oor die elemente, die uitdaging wat die hoof gebied is en doelwitte wat ek vir myself gestel het wat bereik is. Self voldaan ry ons na Melkbos waar ons oor bly en ek uit rus vir die volgende dag se swem.

Moenie hierdie swem in 2016 mis loop nie!

Marié

Monday 2 March 2015

Bridge House Mile

Energy Events organiseer die byeenkoms saam met die privaat skool Bridge house School. Dit word by die Bergrivier dam gehou in die berge by Franschhoek, werklik n skilderagtige omgewing. Die dam water is lieflik koel en mens kan lekker ver swem voor jy omdraai en terug swem. Goeie advertensie bring n ongelooflike klomp swemmers byeen. Ek dink daar was ook baie triathlon atlete maar hulle moet sonder hul wapen- die wetsuit, swem.

Die samekoms is op die hoë damwal en ons is gelukkig gewaarsku om sandale te bring vir die klipperige steil wal waar ons moet af gaan. Ongelukkig bring dit dan ook mee dat as jy gemaklik wil sit, jy nie regtig die swemmery kan sien nie.

Ek swem  'n baie lekker myl met baie mense om my. Ek behaal die 94 ste plek in die "Open Mile" in 32 minute 3 sekondes. Ons ouderdomme word aan gedui maar ons word nie in daardie kategorië in gedeel nie. Ek is 4 de van die 16 vroue tussen 50-59. Dit hang maar net af van wie deelneem hoe goed ek vaar, lyk dit my.

Ek het ook vir die Elite Mile ingeskryf om nog n myl te swem aangesien hulle korrespondensie gestuur het:

4) You may swim more than one event, but must enter each one individually.

Hulle het wel in die email gesê dat jy in onder 25 minute moet swem as jy vir die prysgeld in die Elite myl in aan merking wil kom. Ek het terug ge email en is deur Esti Pretorius verseker dat ek mag deelneem.

Ek het reeds teen kwart voor tien klaar geswem aan die myl en tot 11 uur gewag om die tweede myl te swem. Toe ek wil seker maak dat ek wel mag swem al is my naam nie uit gelees nie, is ek basies weg gejaag. Dit was nogal 'n nare ondervinding. Dit is die eerste swem waar daar so 'n opgeblase idee rondom die "Elite" swemmers is. Sanlam Cape Mile het ook n Elite mile gehad maar daar was die stadigste tyd 45 minute vir die myl. So almal was steeds welkom om dit te swem.

Die geluk by die ongeluk was dat Stephanus die bakkie ligte aan vergeet het. As ek nog die myl geswem het, het ons dalk nie weg gekom nie!

Thursday 26 February 2015

Oefen by RPC

Ons plaasdam op Goedertrou is basies leeg. Die bietjie water wat oor is het ook baie alge in en ek moet sekere dele van die dam vermy. Knolfontein se lekker groot dam is nou 'n heelwat kleiner dam- darem nog steeds 500 m in die rondte. Die probleem is dat ek daar deur goed aangeval word wat my vreeslik byt en ek elke slag as ek daar geswem het lyk soos een met Duitse masels! Ek het ten minste 20 byt plekke oor my lyf.

Gelukkig was Alan Zondagh van die Rugby Performance Centre so vriendelik om my toe te laat om weer in hulle swembad te swem.

Ewe skielik is my tye sommer baie beter as net die vorige dag toe ek in Malmesbury geswem het. Ek vermoed onraad en tree die swembad af. Dan gaan n lig vir my op. Die swembad is seker meer as 50 jaar terug gebou toe die Sement fabriek nog deur die Ingelse besit is en Cape Portland Cement geheet het. Hulle het dit natuurlik in Yards gebou en nie in meter nie. 25 Jaart is net onder die 23 meter en ek swem ongelukkig nog teen dieselfde spoed. (Die sportgronde is verkoop en tans in die besit van Alan Zondagh wat sy Rugby Performance Centre hier gevestig het)

Dit is nou weer lekker om gereeld in die swembad te oefen. Ek kan my effektiwiteit meet en bepaal of my verstellings 'n verbetering in spoed bewerkstellig. Ek moet soggens voor 8 uur klaar geswem wees. Dit is n goeie begin vir elke dag. Waar ek twee jaar terug gesukkel het om in die water te gaan as dit nie n lekker son skyn dag is nie, is dit nou vir my tweede natuur en gaan ek maklik selfs in die half donker in die water. Ek moet 6vm by die swembad wees as ek 4-5 km wil swem.

Ek is ingeskryf by die Total Immersion Academy. Dit kos n maandelikse fooi maar daarvoor is al die videos en ook Terry Laughlin se nuwe boek op die Akademie beskikbaar. As mens raad nodig het is daar altyd n TI coach op die forum om te help. Suzaan Atkinson het ook n 12 weke program hierop wat ek nou gaan begin volg.

Ek lees gereeld Mat Hudson se blog. As n fondasie om jou swem tegniek te bou stel hy dit dat jy in n proses moet glo en die proses moet vertrou. Dit het ek nou net weer besef. Daar is baie verskillende benaderings in die swem wêreld. Ek glo in die Total Immersion filosofie en in my aanlyn afrigters. Ek kan nie n baster benadering volg deur ander idees met TI idees te vermeng nie. Dan sal die proses nie effektief wees nie en sal ek nie resultate verkry nie. Sommige benaderings soos die een waar krag en vinnige SR beklemtoon word is nie versoenbaar met TI nie. Total Immersion beklemtoon juis dat hierdie tegnieke oor n kort afstand werk maar oor die langer afstande soveel weerstand kan veroorsaak- n 10 % groter spoed veroorsaak 80 % meer weerstand, dat dit net te uitputtend is om volhoubaar te wees. Volgens die TI proses is balans en vaartbelyning die boustene waarop spoed later gebou word. Hierdie boustene moet gereeld verfyn word deur te probeer vasstel waar verbeterings nog aan gebring kan word.

Ek weet reeds dat ek nie altyd my kop in die water laat hang nie en dat ek met asemhaling my kop ook oplig en nie net draai nie. Hierdie aspekte gaan my fokus punt vir die volgende twee weke wees. Swem op die TI manier betrek jou verstand en jou liggaam en om so intens betrokke by die proses te wees is opwindend en maak elke swem n unieke ervaring. Geen vervelige op en af swemmery vir n TI swemmer nie!

Tuesday 24 February 2015

Cape Mile

Die Cape Mile is deur Stillwater Sport georganiseer. Hulle het n vreeslike indrukwekkende "stadion" gebou. Na jou swem moes jy omtrent 300 m oor die hele krieketveld loop (tussen die beeshekke deur) om jou medalje te kry. Hier het ons ook n chip aan die been gehad soos met Midmar. Waar my Midmar tyd ooreengestem het met die tyd op my Garmin was die voorlopige tyd in ooreenstemming maar hul finale tyd was aangepas en was omtrent n minuut uit met my Garmin.

Dit was n baie lekker swem met baie mede deelnemers (weet nie waarom hulle nie almal ook by die WP swem nie) so ek kon weer eens net vir hulle dophou om om te sien waar ek moet swem.

Ek voltooi dit in die 8 ste plek in n tyd van 34 min 50 sekondes en volgens my Garmin in 33 minute 26 sekondes. Ek swem 1:53 minute per 100 meter oor die afstand van 1777m. Ek was spyt dat ek nie ook vir die ander myle ingeskryf het nie, maar mens skryf vir n ouderdomsgroep in en swem dan 'n kategorie.

My familie het almal ander dinge aan so ek is alleen by die geleentheid. Ek benut die kans om die ander swemmers dop te hou. Marizanne Grundlingh wat ek by Sunningdale swembad ontmoet het swem haar eerste plek los in die 30-40 kategorie. Sy swem met verskriklike mooi lang hale en dit lyk absoluut gemaklik en moeiteloos as sy swem. Sy sê wat onder die water aangaan is die belangrike ding!

Sunday 8 February 2015

Midmar

Ek was nie van plan om al hierdie jaar die Midmar myl aan te durf nie. Ek het gedink ek sal eers my tyd probeer verbeter. Die vinnigste vrou in my ouderdoms groep het verlede jaar die myl in 25 minute af gelê. Ek sal nog baie moet verbeter om naby daardie tyd te kom. 5 Sekondes vinniger swem verg ure se oefen en ek moet 7 minute vinniger swem.

Toe Van der Byl in Oktober verlede jaar hoor dat hy wel Pietermaritzburg toe gaan vir sy Internskap het ek dadelik my plek in twee "events" by Midmar bespreek. Ek kon sommer vir my seun gaan kuier en saam met die duisende ander mense aan die grootste oop water byeenkoms ter wêreld deel neem.

Ek het Saterdag in die eerste byeenkoms geswem. Individue, gestremdes en Dusi deelnemers kan hier inskryf. Daar is 29 vroue in  my ouderdoms groep wat hiervoor inskryf en my tyd van 32 minute 13 sekondes besorg aan my die 4 de plek en die wenner in die ouderdomsgroep se tyd is 30 minute 40 sekondes. Ek behaal ook die 200 ste plek van die 901 deelnemers in hierdie groep. (Daar is n hele klomp deelnemers wat vir al 8 "events" inskryf. Hulle swem met goue pette)

Op Sondag swem ek in my ouderdoms groep "Event 5". Daar is altesaam 1375 inskrywings in hierdie klas van dames onder 13 en bo 30. Ek behaal die 318ste plek en die 16 de plek in my ouderdomsgroep (51-60 jaar) van die 142 inskrywings. My tyd van 31 minute 25 sekondes is my vinnigste myl tot dusver. Rita Townsend en Gail Bristow swem 'n halfminuut vinniger as verlede jaar en die wentyd is 24 minute 25 sekondes.' n Hele 7 minute wat ek sal moet verbeter as ek vir hulle kompetisie wil wees!

Ons gebruik die geleentheid om saam met Van der Byl die provinsie te verken. Ons besoek die slagveld van Bloedrivier en hoor hierdie aangrypende verhaal van albei kante van die rivier. Ons koop lekker vleis op Estcourt by die Eskort fabriek/slaghuis en sien werklik die landelike gebiede van Kw- zulu Natal. Dit is werklik n baie, baie mooi deel van ons land.

Van der Byl is nog volgende jaar hier en dan wil ek graag aan 4-6 van die "events" deelneem. Die atmosfeer is baie gesellig en met die baie swemmers op die water is dit nie moeilik om rigting te hou sonder om op te kyk nie- ek maak net op die ander swemmers staat. Volgens my Garmin het ek darem nie te skeef en krom geswem nie (maar beslis ook nie in n reguit lyn nie).

Saturday 31 January 2015

Mountain Mill Mile

Worcester Gimnasium het vir die derde jaar hierdie Myl aangebied by die winkelsentrum in Worcester. Dit is die 2 de jaar dat ek dit swem. Verlede jaar was die wind ontsettend sterk en dit was die eerste myl wat geswem het. Ek het toe 42 minute geswem.

Hierdie jaar het ek dit in 33 minute 51 sekondes voltooi teen n pas van 1:56 min per 100 meter. Ek was teleur gesteld om nie onder die eerste 3 in my ouderdoms groep te kom nie want ek kry gewoonlik n goeie plek in my WP swemme. Die vinnige Worcester vroue lyk my swem net in Worcester.

Antionette is saam met my soon toe en haar Brownies en Jaffels was my energie bronne.

Saturday 17 January 2015

WP byeenkoms by Eikenhof dam

By hierdie byeenkoms besluit ek om 5 km, 3 km en 1 km te swem. Annake en Wiekus gaan saam en hul vriende kom ook. Antionette en Hettie en haar man kom my ook ondersteun. Almal bring iets vir die piekniek en Antionette se Brownies is soos altyd, baie lekker. Dit is ook my energie bron vir die volgende swem.

Die 5 km word in twee rondtes van 2,5 km geswem. Wiekus gaan gee Chris Fourie, wat 10 km wou swem, se voeding  en dit is lekker om hom op die bootjie te sien na my eerste rondte. Ek swem gemaklik en 'n beter tyd as verlede jaar, 1 uur 46 minute.

Daar is genoeg tyd om uit te rus want die mense wat 10 km swem maak eers klaar. Ek swem die 3 km in n mooi tyd van 1 uur 2 minute, my beste tyd nog. Ek voel nog steeds sterk, maar besluit om saam met Lindsay die 1 km te swem. Sy verseker my ek hoef nie heel pad by haar te bly nie.

Tot my skande swem ek langs die pad in haar vas. Toe ek sien dat n derde persoon ook saam met ons swem, besluit ek om bietjie vinniger te probeer swem. Ek was na 200 m spyt oor die besluit want toe is ek regtig moeg. Ek span my in ten spyte van die moegheid en voltooi die km in 22 minute 12 sekondes.

Daardie aand is my lyfseer en ek drink n pyn en slaappil. In die nag raak ek wakker bewus van my lyf wat pyn.Mmmm ek is defnitief nog nie fiks genoeg vir my Robben eiland swem nie!