Sunday 15 May 2016

Sal ek dit maak?

Ek is al weer aan die swem, my oog het mooi herstel en ek het aan die swem by Langebaan deel geneem. (Daar het die Sea Lice my amper op gevreet. Ek het nou nog, 4 weke later die wonde en jeuk steeds. My vriendin Jessie het  vir my n salf met spesiale olies gemaak en dit lyk of dit werk.) Ek het ook die 1 ste Mei die 1SOMS se CORE - dit is 3 km geswem. Beide hierdie swemme het baie goed gegaan.

Nou lê die grote voor. Die 10 km tussen Milnerton se vuurtoring en Big Bay is volgende week en Saterdag. Verlede jaar het ek dit aan gedurf maar moes na 5 km onttrek. Ek was hipotermies en kon nie verder in die 10 grade Celsius water swem nie.

Dit was vir my onverklaarbaar, want ek was toe goed aan gepas by die koue water en baie fiks. Ek het ook nie juis gedink dat die water so koud is nie. Ek het n paar foute gemaak. Ek het probeer om n hele botteltjie Game met my eerste rus na 'n uur uit te drink. Dit het lank geneem en ek het koud geword. Dit het my ook vreeslik naar gemaak. Toe ek beter voel het ek gedink ek sal vinniger swem. Dit is ook 'n fout- in koue water is dit beter om 'n gemaklike pas te handhaaf as om teen verskillende spoed te swem. Ek het meer suurstof benodig as wat ek met my 4-5 hale asemhaling gekry het.

In enige lang swem is die "kop ding" die een wat gewen moet word. Die vraag, "Sal ek dit kan maak?" kom voor die tyd by jou op en ook tydens so 'n swem. Verlede jaar het ek nog nie daardie vraag gevra nie toe ek ewe skielik so moeg was asof ek op 'n hoë berg is en nie genoeg suurstof kry nie. Ek moes toe tou op gooi.

Vir hierdie jaar beplan ek om baie kort te rus en slegs water te drink. Ek sal n piesang en kaas saam neem as ek voel dat ek iets moet in kry. Ek wil deurgaans dieselfde pas handhaaf en hoop dat ek dit die jaar sal maak. Alhoewel elke swem lekker is, is ek altyd spyt as ek die eindpunt bereik- dan wil ek nog swem!. Ek is oortuig dat langafstand swem my soos n handskoen pas. Ek het nog nie so ver aan mekaar geswem nie dus kan ek nie vir myself sê: Jy het dit al gemaak nie. Dit dink ek is die voordeel as mens al 'n lang swem voltooi het- dan weet jy verseker jy kan en as die twyfel en die moeg kom, weet jy dit is vir jou moontlik om dit te voltooi.

Ek hoop om oor 'n week ook so te kan sê!

Marié