Sunday 29 March 2015

Around The Rocks

Die swem vind in Big Bay plaas en ek voel meer gerus- alles is nie vreemd nie. Ons swem eers deur bietjie see bamboes diep see in en draai dan om n booi. Hier sluit ek by n groepie van 7 swemmers aan en dit is lekker om so saam met hulle te swem. Dit verg nogal konsentrasie om in niemand vas te swem nie en ek swem maar na die linkerkant van die groepie en kan nie enige voordel kry om van ander swemmers te "draft" nie. Ek verkies dit so, as wat ek in iemand vas swem.

Die roete gaan rondom twee groepe rotse. Toe ek om die verste groep rotse swem is ek 'n entjie van die ander swemmers en skielik gewaar ek 'n klein rob met skerp tandjies wat onderstebo onder deur my swem. Ek skrik my boeglam maar besef dit is net 'n rob. Die volgende oomblik swiep n groot grys gevaarte ook onder my verby. Ek swem vinnig nader aan die ander. Hul reaksie maak dit vir my duidelik dat die rob ook onder hulle gesewm het.

Nou is ons almal aangevuur en swem ons sommer nog vinniger. Ek voltooi die 2,4 km in 46 minute maar is weer deur 'n gety bevoordeel wat my help om hierdie lekker vinnige tyd aan te teken.

Na die swem is ek nie so koud nie en n lekker warm stort en die sonnetjie in die binne vierkant terwyl ons die wenners geluk wens, help om vinnig warm te word. Na die vorige week se hipotermie, is die vinnige herstel 'n genade.

Die robbie het verseker dat dit een van my onvergeetlike swemme sal wees.

MariƩ

No comments:

Post a Comment