Sunday, 3 April 2016

Robbeneiland van die boot

Dis 2 April en die Robbeneiland swem is vandag. Die wolke wat aanpak en die groot golwe skrik die organiseerders nie af nie. Ons bootsman Jonathan het 3 ander bote wat hy verhuur en ons gaan eers half nege op die water nadat hy al die bote in die water gesit het. Jonathan is ervare en versigtig en ry baie mooi oor hierdie groot deinings. Ten spyte daarvan is die rit maar stamperig en ek weet my ou lyf gaan more styf wees.

Jonathan druk die "throttle" terug as ons op n deining kom en ons vlieg darem nie elke keer op en af nie. Ek sit voor in die neus en kry dus die volle impak. Ek wens ek kan liewer in die water wees as op die boot! By  Robbeneiland lê al die bote rond en bont. Ek wonder hoe ons swemmers ons gaan uitsoek tussen al die bote?

Jonathan gaan praat met die oorsese bootsman op sy laaste boot- hulle was nog nie daar toe ons vertrek het nie. Toe hy die nuus hoor dat 'n boot om geslaan het, het hy dadelik gedink dit was sy boot. Groot is sy verligting dus om die boot te sien. Ons vaar nader aan die hawe en skielik is daar drie swemmers voor ons. Chris het gesê dat Toni Enderli ook dalk saam met hom en Andrew Chin gaan swem dus vermoed ek dadelik dus hulle. Andrew se dogter sê nee haar Pa sal nie so voor wees nie, ek ruk Chris se gelamineerde nommer uit en skree vir haar om die sambreel oop te vou. Dit is toe hulle, maar hulle is nie heel eerste soos ons gedink het nie. Ons het net nie die ander swemmers sien verby kom met die dat ons by die ander  boot besig was nie.

My grootste vrees; hoe kry jy jou swemmer word dadelik vervang met: Waarna mik ons. Die swemmers het nie dié belangrike inligting vir Jonathan gegee nie, Andrew se dogter weet nie en ek weet maar net van die foto's van vorige swemme dat hulle in 'n C kurwe na Table View se kant vir Big Bay benader omdat daar 'n stroom is wat mens heel van koers na Melkbos se kant kan druk as jy te ver links gaan.

Ek en Jonathan besluit ons mik eers vir die groot enkel woonstel gebou in Bloubergstrand. Ek sit my Garmin aan op "OpenWater Swim" en hoop maar om akkurate data oor afstand en spoed daaruit te kry. Daarvolgens tel hul spoed op van 1 min 43 sekondes na 1 min 23 sekondes. Hulle swem teen hierdie vinnige spoed vir omtrent die hele tyd.

Na 3,5 km kom die Resies Direkteur, Ram Barkai met hul boot daaraan en beduie dat ons nou op Big Bay moet mik. Daar is "townhouses" teen die bult met n "haasbek" opening tussinin. Dit is ons mikpunt. Ram spring in die water en hy en Andrew swem gemaklik vooraan. Ons derde swemmer is nie Toni nie, maar Carla. Dit is haar boot wat om geslaan het en omdat sy min of meer dieselfde spoed as Chris en Andrew swem het hulle hul oor haar ontferm. Sy en Chris swem lekker saam en Andrew swem voor aan. Hy is haastig en probeer hul met sy voorbeeld inspireer.

Ek tel Chris se hale en kry 70 hale per minuut. Ek kontroleer dit nog n paar keer en ook deurentyd in die resies. Hy bly konstant selfs teen die einde waar ons n gety teen ons ervaar en Carla selfs vra of sy wel vorentoe gaan. Al voel dit vir hulle of hul stilstaan het hul spoed net effens verswak na 1 minuut 28 en later 1 minuut 31 sekondes.

Ons bereik die opening tussen die rotse en toe ons seker is hulle is in posiisie om uit te swem draai Jonathan die boot om. Ons is reg in die pad van 'n absoluut reusagtige deining en Jonathan maak oop. Hy kan nie  af rat nie, want ons is nog nie op die regte spoed nie en die brander sal ons omgooi! Die boot val met n geweldige slag anderkant die deining af en die pyn skiet reg in my ruggraat op. Ek is verlam van die pyn en die vrees dat ek permanent skade aan my rug sal opdoen. Jonathan is dood bekommerd en baie besorg. Na n rukkie voel ek beter, maar nou is ek baie bang vir die rit terug na die hawe.

Op ons terug rit bel die huurders van die een boot (die uitlander groep) en sê hulle sukkel met die boot. Nou moet Jonathan besluit om of om te draai of eers vir ons te gaan aflaai. Genadiglik besluit hy om ons eers af te laai. Hulle is op pad en daar is eintlik min wat hy kan doen. Hulle was nie lus om die boot by die Oceanos hawe te besorg nie en ek dink hulle het die probleme versin in die hoop dat hy hul naby Big Bay sou kon aflaai. Weet nie of hulle in die see wou afklim nie?

Vir my was dit n voorreg om 'n  Robbeneiland oortog op so n manier te beleef. Ek het twee weke gehad om die teleurstelling te verwerk en het net lus gevoel om ook te swem toe ons oor die deinings moes ry om by Robbeneiland en weer terug by die hawe te kom. Terwyl hulle geswem het was dit vir my baie interessant om hulle dop te hou en die twee ure het letterlik verby gevlieg.

Nou wag ons net vir die uitslae, maar ek kan solank geluk sê aan almal wat hierdie oortog voltooi het. Daar was heelwat jellievisse, Andrew is op beide arms gesteek en ook oor sy bolip. Die see was ook vol see bamboes aangesien daar blykbaar n paar stormagtige dae was.

Die seerediings boot het n paar keer met n swemmer in foelie toe gedraai verby gekom en my diepste medelye het na hul uit gegaan. Ek weet op daardie stadium is daar nog nie teleurstelling nie, want jou brein werk nie eintlik lekker nie. Nou is dit net n geveg op oorlewing, maar gelukkig is Derrick se span goed ingerig om dit te hanteer en is die swemmers in veilige hande.

Hopelik is hul na die tyd dankbaar hulle leef en sal dit help om die groot teleurstelling te beveg. Ek raak net weer bewus dat ek meer in die koue water moet swem. Jammer ons kan nie al aftree en op Melkbos gaan bly nie!

As jy die swem voltooi het, Baie Geluk.

Marié