Sunday 20 March 2016

Weer 'n teleurstelling

Ek weier om te glo dat Robbeneiland en 'n swem van daar nie vir my bestem is nie- net nie die jaar nie. Al weer nie die jaar nie!

Ek het twee weke gelede hierdie snaakse swart (lyk soos seewier) dingetjie voor my oog sien verby sweef. Aangesien ek nie besig was om in die see te swem nie was dit vir my baie vreemd. Ek "gryp" daarna maar "vang" niks. (Dit word floaters genoem)

Toe ek dit vir my seun beskryf (hy is dokter in Pietermaritzburg) het hy soos n goeie dokter eers 'n klomp vrae gevra (soos sien ek ligte wat flits, hoeveel kan ek uit die oog sien en so meer.) Sy aanbeveling dat ek na die na-ure ongevalle gaan.

Die uiteinde is dat ek n skeurtjie in die vlies of die retina self het- is nie mooi seker nie, maar as die oogvog agter dit in gaan kan die hele retina los gaan en sal ek totale sig in die oog verloor. Daar is bloed in die oog en die dokter sukkel om die skeurtjie met laser te heg. Hy laser later n sirkel om die skeurtjie om dit soos hy dit stel te "weld". Dit neem so 10 dae vir die laser om meer permanent te wees en ek moet my vir n maand stil gedra.

Dit beteken ek mag nie swem nie en ek mag ook nie saam met my gesin op die Oranjerivier gaan roei nie.

Eensklaps het my lewe donker geword. Dit was net een groot swart teleurstelling. Die grootste hartseer was dat ek my daaglikse swem moet prys gee. Ek maak dadelik planne en besluit dan sal ek maar weer my drills oefen en rugslag swem. Die dokter reken die kopdraai mag dalk nie goed wees vir my oog nie.

My swaer ook 'n dokter laat weet uit Engeland dat dit eintlik die druk is wat tydens oefening in die borskas opbou wat gevaarlik vir die oog is. So ek is terug by basiese drills en om tussen deur op te staan om asem te skep in plaas van my kop draai.

Ek spandeer die week by Melkbosstrand terwyl my gesin die Oranjerivier roei. Die see is onstuimig en ek is bang vir probleme as n brander my sou omslaan en rol en staan net twee keer in die koue water. Ek is goed aangepas by die kouewater en dit help niks- ek moet defnitief vir al hoe langer periodes in die koue water wees om werklik voordeel daaruit te trek. Ek het al vantevore gesien dat 30 minute se swem nog te kort is.

My plan van aksie: ek sal my daaglikse swem met stap vervang en so 2 maal per week wel swembad toe gaan om aan my drills in balans en vaartbelyning te werk. Oor 4 weke sal ek weer begin swem as my oog mooi gesond word. Miskien kan ek op 16 April die korter afstand by Langebaan gaan swem en is ek hopelik reg om in Mei weer die swem van die vuurtoring in Milnerton aan te pak.

Ons beste planne werk dikwels nie, dit vat n tyd om met liggaam en gees aan te pas en nuwe doelwitte te vind. Die teleurstelling moet oor tyd verwerk word. 'n Ligpunt: Chris Fourie sal sy bootman vra of ek wel op 2 April op die boot kan gaan, dan sal ek sy swem kan ervaar en maak dit hopelik op vir hierdie groot teleurstelling.

Hoop julle planne word nie in die wiele gery nie.

MariƩ

No comments:

Post a Comment